Sunday, March 28, 2010

Om te verskil

Om vir die eerste keer op die internet in 'n argument betrokke te raak kan vir enigeen 'n aardige ondervinding wees. In die eerste plek is jy nooit seker hoe ver jou opponent se kennis strek nie en in die tweede plek het hy of sy die hele wye internet as inligtingsbron tot sy of haar beskikking. Dit is dus 'n baie dom besluit om te wil lieg oor jou eie kundigheid of geleerdheid, want binne 'n minuut of twee kan inligting jou tesisse (of gebrek daaraan) opgespoor en geverifieer word.

Maar gelukkig sny hierdie swaard albei kante toe wnt jy kan net so maklik self die internet inspan om twyfelagtige feite na te vors en te weerle waar nodig. Moenie bang wees om vir bewyse soos grafieke, onafhanklike studies en dies meer te vra nie. Dit sal vinnig wys of jou opponent weet waarvan hy praat en of hy net 'n propaganda-papegaai is.

Moet ook nie in die strik trap van 'n ander uitkryt as "oningelig" of "onnosel" net omdat hulle anders dink as jy nie. Dit is veel slimmer om eers vir jouself te vra:"waarom dink die persoon soos hy dink?". Dit is soms nodig om hom uit te vra oor sy denkwyse, want wat jy op die internet sien verskyn, is slegs 'n opsomming van die persoon, en nie die geheelbeeld nie. Dit is uiters moeilik om in twee dimensies vas te vang wat vir jou drie en 'n half dimensies neem m uit te pluis.